Gepubliseer in My Blog

Dis Eksamen!

Dis daardie tyd van die jaar… Al die mammas en pappas is vreeslik op hul senuwees, juffrouens sien die vrag merkwerk wat wag en leerders spring rond om alles geleer te kry.

Van skooldae af was eksamen nooit ‘n buitengewone tydperk in my huis nie. My ma sou gewoonlik die oggend as sy my aflaai eers vra wat ek dan nou skryf die dag. Nie omdat sy nie omgegee het nie (Want sy het baie omgegee). Sy het toe eers gevra omdat sy geglo het dat eksamen mos my eie verantwoordelikheid was. Sy het nooit oor my skouer geloer om te kyk wat ek leer nie, nooit vir my opsommings gemaak nie en ook nooit tot 12h die aand gesit om vir my vrae oor die werk te vra nie.

Dalk is dit hoekom ek nou bietjie min simpatie met my eie leerders en hulle eksamen het. Ek verstaan net glad nie die bohaai nie. Ouers wat kom aanklop en PRESIES wil weet watter datums en gebeure in die Geskiedenis vraestel gaan wees. Sussie wat met ‘n papiertjie kom en vra vir al die Wiskunde somme wat Meneer in die toets gaan vra. En die heel beste, as daai seuntjie agter in die klas, wie nooit sy tuiswerk doen nie, nou spartel om al die werk in die hande te kry.

Maak ons dalk ons kinders groot om altyd afhanklik te wees van AL die hulp wat ons gee? Almal wil heeltyd sê: “Maar hulle is nog net graad7.” Nou wil ek vra of dit in graad 8 skielik anders gaan wees. Gaan ‘n mamma dan skielik net sê dat sy nou klaar gehelp is? Is dit nie nog meer wreed nie?

Leerders moet vertel word dat eksamen ‘n positiewe tydperk is. ‘n Tyd waar hulle kan spog met alles wat hulle die afgelope ses maande nuut geleer het. ‘n Kans vir hulle om vir hulle onderwysers te wys dat hulle waardeer wat hulle doen. Geen kind moet bang wees vir ‘n eksamen vraestel of eens die woord “stres” ken nie.

Eintlik wil ek maar net vra dat jy jou leerders of jou kinders sal motiveer om van eksamen te hou. Gee ook jou kind die verantwoordelikheid om self te leer (en wees naby met bietjie Hot Chocolate en ‘n hand as dit swaar gaan). Ons help hulle baie meer as ons vir hulle die geleentheid gee om op hul eie regop te staan.

Vir die juffrouens en menere, geniet daardie merkwerk! Klim onder ‘n warm kombers in en geniet jou leerders se harde werk.

Gepubliseer in Gratis,Lewensvaardighede

Gratis Les oor Spyskaarte

Om te eet in die klas is mos enige kind (en juffrou) se droom! Hierdie kwartaal is dit dalk net moontlik!

Deel van Lewensvaardighede in graad 4, moet leerders ‘n eg Suid-Afrikaanse spyskaart opstel. Hierdie PowerPoint bespreek verskillende kulture se kosse en help so leerders verstaan hoekom Suid-Afrikaanse kos so divers is.

images (6)

Spyskaarte van verskillende kulture in Suid-Afrika

Laat jou leerders ‘n spyskaart uitwerk (en sommer ietsie egs Suid-Afrikaans kom voorberei vir die klas!)

Lekker smul!