Gepubliseer in My Blog

Wat is die “nuwe normaal”

Hierdie week dink ek so aan my kollegas in Suid-Afrika. Ek weet dit is moeilik en frustrerend en dat julle hard werk. Ek hoop en vertrou dat elke kind en ouer sien wat julle aanpak op die oomblik. Dat almal verstaan hoe bang julle ook is vir hierdie nuwe vreemde ervarings. Saam met dit het ek besef hier sit ek al in week vier van ons “nuwe normaal” en eintlik gaan dit baie goed.

‘n Paar weke terug het Luxembourg se onderwysdepartement aangekondig dat skole weer sal oopmaak. Eers net grade 6-12 en dan later die jonger groepe. Die skole hier het bietjie meer vryheid in hoe hulle die saak wil benader en die skool waar ek aflos het besluit om te begin met graad 6-10 (die graad 11 en 12 se skooljaar is basies verby en hulle kan aangaan met tuisonderrig).

Elke klas is opgedeel en ons het as skool ‘n groep een en twee wat weekliks wissel. Dit beteken ons het op enige gegewe tyd nie meer as 10 kinders per klaskamer nie. Wat ‘n luukse ervaring.

Elke oggend vorm die leerders een lang ry om die skool binne te kom. Van 8:00 af begin die skool se gesondheidspan koors meet. Hulle het van die beste kwaliteit toerusting en leerders stap net rustig verby die kamera en kry ‘n kopknik dat hulle maar kan binne gaan. Dit neem gewoonlik so 20min om die groep binne te kry.

Omdat daar heelwat onderwysers steeds tuis is (hulle het kinders wat nog nie skooltoe gaan nie, of hulle is dalk self ‘n risiko-geval vir die virus) is ons ‘n lekker groot groep aflosonderwysers wat instaan. Maar ons gee nie klas nie… Nee, elke onderwyser gaan voort met die aanlyn klasse soos hulle gemaak het terwyl die leerders tuis was. En nou indien groep een by die skool is, moet groep twee se leerders ook aanlyn wees terwyl die klas aan die gang is. Al die kinders kry nogsteeds dieselfde onderrig tyd.

In die klas gee ons vir leerders die geleentheid om bietjie hul maskers af te haal. Hulle banke is almal twee meter weg van mekaar en hulle is dus geregtig op die tyd sonder die maskers. Sommige leerders hou dit steeds aan en ander kan nie wag om dit af te ruk nie. Die land se amptelike aanwysing is op die oomblik dat maskers gedra moet word as mens nie ‘n twee meter afstand kan behou nie. So dit maak die dinge darem heelwat makliker.

Behalwe vir al die skoonmaakmiddels in elke klas en die boks maskers op my lessenaar, is die skool ook opgemaak uit een-rigting “paadjies” op die oomblik. Sommige trappe is slegs vir op of vir af en partykeer voel ek asof ek in sirkels loop om net by die kafeteria uit te kom.

Middagete is natuurlik nog ‘n storie! Hier in Europa is middagete baie belangrik by skole en dit het ook nie nou gestop nie. Leerders het ‘n halfuur middagete elke dag waar hulle in die kafeteria gaan sit (twee meter van mekaar af). Hulle het vasgestelde sitplekke en die leerders wat kos by die skool bestel, se kos wag al op die tafel soos hulle inkom.

Omdat ons aan die einde van die skooljaar staan is meeste assesserings vergete. Leerders kan projekte voltooi vir ekstra krediete, maar dit verander nie veel aan hul finale jaarpunt nie. Hulle is dus moedeloos en voel dat skool ‘n mors van tyd is. Ek voel natuurlik dit is belangrik om die “nuwe normaal” gewoond te raak voor almal op hul twee maand lange somervakansie gaan! Want as ons terugkom, gaan daar definitief nogsteeds ‘n paar riglyne gevolg moet word. En hulle is natuurlik almal bly om weer hul vriende te kan sien.

Ek weet in Suid-Afrika is die storie anders. En ons sal dit nooit met mekaar vergelyk nie. Ek hoop net vir beter leiers in Suid-Afrika wat die regte besluite kan maak en die terugvoer betyds kan deurgee. Dra jou masker, bly gesond en glo dat die einde in sig is. Ons sien dit reeds hier!