Gepubliseer in My Blog

Wat is die “nuwe normaal”

Hierdie week dink ek so aan my kollegas in Suid-Afrika. Ek weet dit is moeilik en frustrerend en dat julle hard werk. Ek hoop en vertrou dat elke kind en ouer sien wat julle aanpak op die oomblik. Dat almal verstaan hoe bang julle ook is vir hierdie nuwe vreemde ervarings. Saam met dit het ek besef hier sit ek al in week vier van ons “nuwe normaal” en eintlik gaan dit baie goed.

‘n Paar weke terug het Luxembourg se onderwysdepartement aangekondig dat skole weer sal oopmaak. Eers net grade 6-12 en dan later die jonger groepe. Die skole hier het bietjie meer vryheid in hoe hulle die saak wil benader en die skool waar ek aflos het besluit om te begin met graad 6-10 (die graad 11 en 12 se skooljaar is basies verby en hulle kan aangaan met tuisonderrig).

Elke klas is opgedeel en ons het as skool ‘n groep een en twee wat weekliks wissel. Dit beteken ons het op enige gegewe tyd nie meer as 10 kinders per klaskamer nie. Wat ‘n luukse ervaring.

Elke oggend vorm die leerders een lang ry om die skool binne te kom. Van 8:00 af begin die skool se gesondheidspan koors meet. Hulle het van die beste kwaliteit toerusting en leerders stap net rustig verby die kamera en kry ‘n kopknik dat hulle maar kan binne gaan. Dit neem gewoonlik so 20min om die groep binne te kry.

Omdat daar heelwat onderwysers steeds tuis is (hulle het kinders wat nog nie skooltoe gaan nie, of hulle is dalk self ‘n risiko-geval vir die virus) is ons ‘n lekker groot groep aflosonderwysers wat instaan. Maar ons gee nie klas nie… Nee, elke onderwyser gaan voort met die aanlyn klasse soos hulle gemaak het terwyl die leerders tuis was. En nou indien groep een by die skool is, moet groep twee se leerders ook aanlyn wees terwyl die klas aan die gang is. Al die kinders kry nogsteeds dieselfde onderrig tyd.

In die klas gee ons vir leerders die geleentheid om bietjie hul maskers af te haal. Hulle banke is almal twee meter weg van mekaar en hulle is dus geregtig op die tyd sonder die maskers. Sommige leerders hou dit steeds aan en ander kan nie wag om dit af te ruk nie. Die land se amptelike aanwysing is op die oomblik dat maskers gedra moet word as mens nie ‘n twee meter afstand kan behou nie. So dit maak die dinge darem heelwat makliker.

Behalwe vir al die skoonmaakmiddels in elke klas en die boks maskers op my lessenaar, is die skool ook opgemaak uit een-rigting “paadjies” op die oomblik. Sommige trappe is slegs vir op of vir af en partykeer voel ek asof ek in sirkels loop om net by die kafeteria uit te kom.

Middagete is natuurlik nog ‘n storie! Hier in Europa is middagete baie belangrik by skole en dit het ook nie nou gestop nie. Leerders het ‘n halfuur middagete elke dag waar hulle in die kafeteria gaan sit (twee meter van mekaar af). Hulle het vasgestelde sitplekke en die leerders wat kos by die skool bestel, se kos wag al op die tafel soos hulle inkom.

Omdat ons aan die einde van die skooljaar staan is meeste assesserings vergete. Leerders kan projekte voltooi vir ekstra krediete, maar dit verander nie veel aan hul finale jaarpunt nie. Hulle is dus moedeloos en voel dat skool ‘n mors van tyd is. Ek voel natuurlik dit is belangrik om die “nuwe normaal” gewoond te raak voor almal op hul twee maand lange somervakansie gaan! Want as ons terugkom, gaan daar definitief nogsteeds ‘n paar riglyne gevolg moet word. En hulle is natuurlik almal bly om weer hul vriende te kan sien.

Ek weet in Suid-Afrika is die storie anders. En ons sal dit nooit met mekaar vergelyk nie. Ek hoop net vir beter leiers in Suid-Afrika wat die regte besluite kan maak en die terugvoer betyds kan deurgee. Dra jou masker, bly gesond en glo dat die einde in sig is. Ons sien dit reeds hier!

Gepubliseer in My Blog

Maak jou klaskamer vrolik

Dit was altyd vir my so lekker om my klaskamer reg te maak aan die begin van die jaar. Om seker te maak alles wat vertoon word, het ‘n doel. Dat elke plakkaat en vlaggie deel vorm van die leerproses. En dan teen Kwartaal drie besef ek dat ‘n fotosintese plakkaat nou nie so lekker by die Energie en Klank tema inpas nie… Maar teen kwartaal 2 is ek ook nie meer lus vir nuwe plakkate soek en uitdruk nie.

Daarom moes ek leer om klein versamelings plakkate en bronne bymekaar te maak. ‘n Versameling vir elke kwartaal of tema. Dit is nie iets wat oornag gebeur nie. En baie raak lelik, en word vervang deur ‘n nuter, meer moderne weergawe. Of jy sien een dag ‘n pragtige watersiklus in die PNA en dan verdamp die ou A4 plakkaat sommer saam met daardie week se glas water.

Elke nou en dan wonder ek of leerders ooit raaksien hoe baie moeite in ons klasse ingaan. Is daar werklik ‘n verskil tussen die een klas wat versier is met kleurvolle vlaggies en tema mure, en die vaal klas in die hoek waar die take van 1997 leerders nog op die mure pronk?

En elke nou en dan verbaas een jou. As jy hoor, “Dis soveel lekkerder hier in juffrou se klas… Dis so MOOOOOOOOI”. Dis dan wat jy weet jou versameling plakkate is die moeite werd. Of as die outjie wie nooit regtig sy maaltafels ken nie, aan die einde van die jaar help plakkate afhaal en skielik terugstaan. “SJOE, Juffrou! Kyk hoe snaaks lyk dit nou sonder iets op die mure!” Dan is ek dankbaar vir my versameling.

My versameling is tans in ‘n boks in my ouer-huis. Tot ek weer eendag my eie klas het, moet hulle maar daar rus. Maar ek versamel ook steeds. PDF’s en Pinterest maak dat ek gereed gaan wees as ek in my volgende “kaal” klas instap en die mure verf met my inspirasie en liefde vir die onderwys!

Maak jou klaskamer vrolik

Gepubliseer in My Blog,Natuurwetenskappe,Sosiale Wetenskappe

Kwartaal Beplannings

Die “lockdown” regoor die wêreld, het vir my die geleentheid gegee om bietjie nuwe produkte te skep in my tyd by die huis!

Ek het op die oomblik Geskiedenis en NW vir graad 5 (kwartaal 2) beplannings beskikbaar op my Teacha aanlynwinkel en ook graad 4 Geografie se kwartaal twee beplanning. Elkeen van hierdie produkte sluit ‘n dokument propvol werkkaarte en hulpmiddels in wat saam met die beplanning gaan.

Dit is vir my moeilik om te weet wat in aanvraag is. So ek vat maar kanse met wat ek voorberei. Indien julle dalk iets spesifiek wil sien op my Teacha winkel, los gerus kommentaar op hierdie plasing! Ek sal dan my bes probeer om self dit bymekaar te sit of ‘n verwysing na so iets vir u aanstuur indien ek nie in staat is om dit te doen nie!

Verder is daar ‘n uitverkoping op my Teacha aanlynwinkel en sommige van my opsommings en plakkate is gratis beskikbaar! Gaan loer gerus!

Gepubliseer in Gratis,My Blog

Great educational websites

We know in this time of being ‘stuck’ at home it will be difficult to limit screen-time. So in stead of avoiding the inevitable, let’s try to stay productive while spending time online!

I’ve sorted through some great websites that offer free online games, activities and even e-books! Let me know which you enjoyed and if there’s anything great out there that I should add!

 

HOUR OF CODE

This website started as an incentive to have teachers and students dedicate an hour of code somewhere in their schedule. The fun and interactive activities teach students of all ages and reading levels basic coding.

Hour of CodeHour of Code 1

My favourite beginner activity is Dance Party! Where you get to code the different dance moves and animations in a little dance scene. Students can also design their own games! Even the popular Minecraft and Flappy Bird make an appearance! Levels are set up in grade levels as well as “beginner” or “comfortable”. There really is something for EVERYONE!

Find it here: https://hourofcode.com/us/learn

Definitely try: Lightbot, Dance Party

 

NATIONAL GEOGRAPHIC KIDS

Always a trusty source! National Geographic Kids offers free quizzes, action games and something they call “Funny Fill-In“.

National Geographic

The games range from basic jumping games (using your arrows), to games where you need to use some creative thinking and brain power! You decide how challenging you want it to be!

While you are there, this website has incredible resources and many many videos and articles for your children to get to know the world they live in.

Find it here: https://kids.nationalgeographic.com/games/

Definitely try: Beaver Badminton, Funny Fill-in Dangerous Dentistry

 

FUNBRAIN

FunBrain created a lot of easy, fun online games. Some games are very simple and others give the opportunity to learn more about specific subjects. Mighty Guy is a simple game that I found quite challenging and very funny!

Funbrain

A second great feature of FunBrain is their incredible collection of books you can read for free online! Titles include Diary of a Wimpy Kid and Honey Moon: Dog Daze.

Funbrain2

Find it here: https://www.funbrain.com/

Definitely try: Vine Time, Read Judy Moody saves the world

 

Alistair Ackermann

Alistair is a South African illustrator who has been doing illustrations for some of the best Afrikaans books there is. Every morning at 10:00 on his Facebook page, he presents a 30min live drawing session. He works at a bit quicker rate which might be difficult for younger artists to follow. But you can watch the videos afterwards, as he leaves them online after the live session is finished. By doing it at a slower pace, all ages will feel comfortable joining in!

Alistair Ackermann

Find it here: https://www.facebook.com/alackermanndraw/

 

Mr Nussbaum – Learning + Fun

This website has an incredible collection of worksheets and games free to use!

Mr

My favourite part is the incredible online scavenger hunt activities. He adds a virtual exhibit or map to explore, and gives an activity with questions about the area you are exploring.

Find it here: https://mrnussbaum.com/games

Definitely try: Order Ops

 

ABCYA

Another wonderful website with a large collection of educational online games. They have games and videos for Pre-K to Grade 6. They have a premium membership option, but I believe you can access a large majority of activities without having to sign up.

ABCYA

Find it here: https://www.abcya.com/

Definitely try: Animalines

Gepubliseer in My Blog

Interessante Tye!

Hier is ek nou, ‘n hele paar jaar later, weer terug op my Juffrou J blog. Ek het die afgelope paar jaar bietjie oorgeskuif na ‘n reisiger wees en so bietjie minder aan die juffrou-deel gewerk. Maar vandag sit ek in my woonstel in die vreemde met tyd op my hande en dink aan almal in Suid-Afrika. Ouers met hande in hul hare en onderwysers wat nie weet wat die volgende paar maande vir hul inhou nie.

Toe ek twee jaar terug uit Suid-Afrika is het ek gehoop om vinnig weer voltyds skool te gee. Ongelukkig was dit nie vir my beskore nie en los ek op die oomblik af by ‘n wonderlike internasionale skool hier in Europa. Ek leer ongelooflike dinge en wens ek kan al die idees terug stuur Suid-Afrika toe.

Hopelik kan ek oor die volgende paar weke ‘n bietjie van hierdie idees op die blog neerpen. Of dalk hoor julle eers weer oor drie jaar van my. “Time will tell”

Vir nou wil ek julle stuur na my Teacha aanlyn-winkel. Ek het ‘n hele paar lekker oefen toetse daar opgelaai. Leerders kan dit gebruik vir eksamen voorbereiding of ekstra oefening in hierdie vreemde tye van tuisskool en onderwysers kan met graagte die idees gebruik terwyl hul toetse opstel vir wanneer als weer terug gaan na normaal, want in Suid-Afrika hou ons van toetse (iets wat ek geleer het nie so belangrik is in die res van die wereld nie, maar dis ‘n storie vir ‘n ander dag)

Sterkte met al die aanpassings. Moenie kommer nie, was jou hande en byt vas!

Gepubliseer in My Blog

Die nuwe jaar

Kan jy glo ek sit vandag vir die eerste keer hierdie hele jaar stil agter my lessenaar en kry tyd vir iets skryf. Die aanpassing van graad 7 juffrou na graad 5 juffrou was sommer baie groter as wat mens sou verwag. Ek glo dat ek nou uiteindelik dit soortvan onder die knie het… Weet mens ooit regtig in die klaskamer? Daar is mos elke dag net NOG verrassings!

Ek wil sommer begin deur te sê dat Class Dojo werk soos ‘n bom! My graad 5 klassie geniet dit ongelooflik baie en die ouers se terugvoer is vreeslik kosbaar. Ek laai sommer foto’s van wat in die klas gebeur ook op en die leerders en ouers geniet dit baie om daarna te kyk tuis. (Dis amper soos ‘n facebook-profiel vir die klas). Class Dojo het ook oulike video’s om in die klas te wys. Veral oor mekaar help en hoe om jou brein te ontwikkel. Hulle het ook ‘n dokument wat onderwysers kan aflaai met verskeie plakkate, prentjies en sertifikate om uit te druk.

My nuwe plakkate hang ook vreeslik netjies in die klaskamer. Gaan kyk gerus op my Teacha Aanlyn Winkel vir my plakkate! Na vele gesukkel is daar ook mooi vlaggies teen my muur en gordyne voor die vensters. Ek het sommer ook van die mure met swartbordverf beetgekry.

Die uitdaging van graad 5 is natuurlik glad nie om die klasruimte vrolik te maak nie, maar eerder om gelyk al 23 se aandag te kry! Leerders dwaal so vinnig weg! Ek probeer maar om seker te maak dat almal heeltyd vir my kyk terwyl ek iets verduidelik. Ek wonder of enigiemand weet hoe mens dit kan verbeter. Want ek sukkel nog baie! 🙂

Met veel minder admin periodes moet ek myself natuurlik dwing om pouses uit die klas te gaan. ‘n Koppie tee saam met die nuwe juffrou gaan tog baie meer beteken as afgerolde papiere wat eintlik tot na skool kon wag.

Dis definitief wat ek op die oomblik aan almal wil sê… Spandeer tyd met jou kollegas! Hulle sit ook meeste van die dag in ‘n klas met kinders en sukkel om leerders se aandag te hou. Hulle smag ook na grootmensgeselskap! Gee dit vir hulle! Gaan drink koffie na werk (of ‘n glasie wyn). Lewe! ‘n Onderwyser met lewe kan leerders laat lewe!

Gepubliseer in My Blog

Class Dojo

Ek het hierdie oulike website gevind om klasgedrag te bevorder!

Jy kan jou klassie op die website laai deur almal se name in te tik en dan briefies huis toe te stuur. Die briefie het ‘n spesiale kode vir ouers, sodat ouers ook leerders se gedrag tuis kan dophou op hul selfone of rekenaars. Die leerders kry ook ‘n spesiale kode waarmee hulle hul vordering kan sien en ook hul eie mannetjies kan ontwerp.

Die website laat jou ook toe om jou eie bemoedigende boodskappies te laai en werk met ‘n puntestelsel. Elke gedrag het ‘n plus of minus punt en mens kan dit gebruik om belonings uit te deel aan die einde van ‘n tydperk.

Daar is ook ‘n opsie om klasgroepe op te laai. Indien leerders saam aan ‘n taak moet werk, kan die groepe ook met mekaar kompeteer ten opsigte van hulle gedrag.

Die website is ongelooflik maklik om te gebruik. Ek sal dit volgende jaar op die proef stel en dan laat weet hoe dit gegaan het 🙂

As jy dit saam met my wil probeer gaan na http://www.classdojo.com om jou klaskamer te registreer. Stuur asb enige kommentaar oor die website sodat ek dit met ander juffrouens ook kan deel.

dojo

Gepubliseer in My Blog

My nuwe klas

Ek hoor toe die ander dag dat ek nie meer volgende jaar graad 7 gee nie, maar wel graad 5. Na die skok en besef dat dit ‘n groot aanpassing gaan wees, het ek opgewonde begin om goedjies vir my nuwe klaskamer te maak. Kyk gerus na ‘n paar idees om ‘n mens se klas op te kikker (klik op die prent om die dokument af te laai):

As ‘n leerder uit die klas gaan, moet hulle gewoonlik ietsie saam dra om te sê dat hulle toestemming het, maar as onderwyser vergeet mens soms watter een is nou by musiek of wie is vinnig badkamer toe. Dus het ek besluit voordat ‘n leerder die klas verlaat, hy/sy sy/haar naamkaartjie moet plaas by die aktiwiteit teen die bord waarheen hulle is.

klas

Ook as ander mense ons dalk soek en ons het byvoorbeeld LO of is in die saal, wil ek buite die klas ‘n nota kan aanbring. Hiermee saam is daar ook vak-naamkaartjies wat kan gebruik word om die rooster netjies teen die muur te pak.

rooster

En ‘n nota vir buite die klas terwyl ons besig is met godsdiens:

bybel

Ek hoop julle is net so opgewonde vir die nuwe jaar. Nuwe gesiggies om te beïndruk met jou mooi klas en lekker lesse!! Geniet die voorbereiding!

Gepubliseer in My Blog

Gratis Groep Werk Plakkaat

Daar is gereeld geleentheid vir groepwerk in klasse en dit is altyd ‘n probleem om in vrede groepe te kies. Druk hierdie uit, lamineer en sit op in jou klas vir groepwerk dae. Jy skryf self leerders se name met ‘n bordpen in by die groepe voordat die les begin. Name kan dus weer afgevee word vir die volgende les se indelings!
Groep indeling

Gepubliseer in My Blog

Dis Eksamen!

Dis daardie tyd van die jaar… Al die mammas en pappas is vreeslik op hul senuwees, juffrouens sien die vrag merkwerk wat wag en leerders spring rond om alles geleer te kry.

Van skooldae af was eksamen nooit ‘n buitengewone tydperk in my huis nie. My ma sou gewoonlik die oggend as sy my aflaai eers vra wat ek dan nou skryf die dag. Nie omdat sy nie omgegee het nie (Want sy het baie omgegee). Sy het toe eers gevra omdat sy geglo het dat eksamen mos my eie verantwoordelikheid was. Sy het nooit oor my skouer geloer om te kyk wat ek leer nie, nooit vir my opsommings gemaak nie en ook nooit tot 12h die aand gesit om vir my vrae oor die werk te vra nie.

Dalk is dit hoekom ek nou bietjie min simpatie met my eie leerders en hulle eksamen het. Ek verstaan net glad nie die bohaai nie. Ouers wat kom aanklop en PRESIES wil weet watter datums en gebeure in die Geskiedenis vraestel gaan wees. Sussie wat met ‘n papiertjie kom en vra vir al die Wiskunde somme wat Meneer in die toets gaan vra. En die heel beste, as daai seuntjie agter in die klas, wie nooit sy tuiswerk doen nie, nou spartel om al die werk in die hande te kry.

Maak ons dalk ons kinders groot om altyd afhanklik te wees van AL die hulp wat ons gee? Almal wil heeltyd sê: “Maar hulle is nog net graad7.” Nou wil ek vra of dit in graad 8 skielik anders gaan wees. Gaan ‘n mamma dan skielik net sê dat sy nou klaar gehelp is? Is dit nie nog meer wreed nie?

Leerders moet vertel word dat eksamen ‘n positiewe tydperk is. ‘n Tyd waar hulle kan spog met alles wat hulle die afgelope ses maande nuut geleer het. ‘n Kans vir hulle om vir hulle onderwysers te wys dat hulle waardeer wat hulle doen. Geen kind moet bang wees vir ‘n eksamen vraestel of eens die woord “stres” ken nie.

Eintlik wil ek maar net vra dat jy jou leerders of jou kinders sal motiveer om van eksamen te hou. Gee ook jou kind die verantwoordelikheid om self te leer (en wees naby met bietjie Hot Chocolate en ‘n hand as dit swaar gaan). Ons help hulle baie meer as ons vir hulle die geleentheid gee om op hul eie regop te staan.

Vir die juffrouens en menere, geniet daardie merkwerk! Klim onder ‘n warm kombers in en geniet jou leerders se harde werk.