Gepubliseer in Afrikaans,Engels FAL

Die Skryfproses

Ek het ‘n oulike idee raakgeloop so paar dae terug. Leerders is gedurig besig met skryftake en ons moet heeltyd vra wie is nou besig met eerste poging of wie is al klaar. Hierdie plakkate met elke stap van die skryfproses (in Engels en Afrikaans) maak dit bietjie makliker. As u ‘n pennetjie met elke leerder se naam op in die klas het, laat ‘n leerder die pennetjie met sy naam gaan plaas by die stap waarmee hy nou besig is. Jy sal dan maklik kan sien wie erens vashaak of wie dalk so vinnig deur die stappe is dat jy moet gaan loer of hy dit reg gedoen het.

Kry die pakkie op my Teacha Aanlyn Winkel!

Die-Skryfproses-2

Gepubliseer in My Blog

My nuwe klas

Ek hoor toe die ander dag dat ek nie meer volgende jaar graad 7 gee nie, maar wel graad 5. Na die skok en besef dat dit ‘n groot aanpassing gaan wees, het ek opgewonde begin om goedjies vir my nuwe klaskamer te maak. Kyk gerus na ‘n paar idees om ‘n mens se klas op te kikker (klik op die prent om die dokument af te laai):

As ‘n leerder uit die klas gaan, moet hulle gewoonlik ietsie saam dra om te sê dat hulle toestemming het, maar as onderwyser vergeet mens soms watter een is nou by musiek of wie is vinnig badkamer toe. Dus het ek besluit voordat ‘n leerder die klas verlaat, hy/sy sy/haar naamkaartjie moet plaas by die aktiwiteit teen die bord waarheen hulle is.

klas

Ook as ander mense ons dalk soek en ons het byvoorbeeld LO of is in die saal, wil ek buite die klas ‘n nota kan aanbring. Hiermee saam is daar ook vak-naamkaartjies wat kan gebruik word om die rooster netjies teen die muur te pak.

rooster

En ‘n nota vir buite die klas terwyl ons besig is met godsdiens:

bybel

Ek hoop julle is net so opgewonde vir die nuwe jaar. Nuwe gesiggies om te beïndruk met jou mooi klas en lekker lesse!! Geniet die voorbereiding!

Gepubliseer in Engels FAL

English Tests

Ek het al vele Engelse Toetse uitgewerk in my paar jaar in die onderwys.

Gaan gerus na my Teacha winkel om die verskeidenheid toetse te sien. Gebruik dit gerus as voorbeelde as jy jou eie toets vinnig moet opstel, of as ekstra oefening vir jou leerders!

 

Gepubliseer in My Blog

Gratis Groep Werk Plakkaat

Daar is gereeld geleentheid vir groepwerk in klasse en dit is altyd ‘n probleem om in vrede groepe te kies. Druk hierdie uit, lamineer en sit op in jou klas vir groepwerk dae. Jy skryf self leerders se name met ‘n bordpen in by die groepe voordat die les begin. Name kan dus weer afgevee word vir die volgende les se indelings!
Groep indeling

Gepubliseer in My Blog

Dis Eksamen!

Dis daardie tyd van die jaar… Al die mammas en pappas is vreeslik op hul senuwees, juffrouens sien die vrag merkwerk wat wag en leerders spring rond om alles geleer te kry.

Van skooldae af was eksamen nooit ‘n buitengewone tydperk in my huis nie. My ma sou gewoonlik die oggend as sy my aflaai eers vra wat ek dan nou skryf die dag. Nie omdat sy nie omgegee het nie (Want sy het baie omgegee). Sy het toe eers gevra omdat sy geglo het dat eksamen mos my eie verantwoordelikheid was. Sy het nooit oor my skouer geloer om te kyk wat ek leer nie, nooit vir my opsommings gemaak nie en ook nooit tot 12h die aand gesit om vir my vrae oor die werk te vra nie.

Dalk is dit hoekom ek nou bietjie min simpatie met my eie leerders en hulle eksamen het. Ek verstaan net glad nie die bohaai nie. Ouers wat kom aanklop en PRESIES wil weet watter datums en gebeure in die Geskiedenis vraestel gaan wees. Sussie wat met ‘n papiertjie kom en vra vir al die Wiskunde somme wat Meneer in die toets gaan vra. En die heel beste, as daai seuntjie agter in die klas, wie nooit sy tuiswerk doen nie, nou spartel om al die werk in die hande te kry.

Maak ons dalk ons kinders groot om altyd afhanklik te wees van AL die hulp wat ons gee? Almal wil heeltyd sê: “Maar hulle is nog net graad7.” Nou wil ek vra of dit in graad 8 skielik anders gaan wees. Gaan ‘n mamma dan skielik net sê dat sy nou klaar gehelp is? Is dit nie nog meer wreed nie?

Leerders moet vertel word dat eksamen ‘n positiewe tydperk is. ‘n Tyd waar hulle kan spog met alles wat hulle die afgelope ses maande nuut geleer het. ‘n Kans vir hulle om vir hulle onderwysers te wys dat hulle waardeer wat hulle doen. Geen kind moet bang wees vir ‘n eksamen vraestel of eens die woord “stres” ken nie.

Eintlik wil ek maar net vra dat jy jou leerders of jou kinders sal motiveer om van eksamen te hou. Gee ook jou kind die verantwoordelikheid om self te leer (en wees naby met bietjie Hot Chocolate en ‘n hand as dit swaar gaan). Ons help hulle baie meer as ons vir hulle die geleentheid gee om op hul eie regop te staan.

Vir die juffrouens en menere, geniet daardie merkwerk! Klim onder ‘n warm kombers in en geniet jou leerders se harde werk.

Gepubliseer in Gratis,Lewensvaardighede

Gratis Les oor Spyskaarte

Om te eet in die klas is mos enige kind (en juffrou) se droom! Hierdie kwartaal is dit dalk net moontlik!

Deel van Lewensvaardighede in graad 4, moet leerders ‘n eg Suid-Afrikaanse spyskaart opstel. Hierdie PowerPoint bespreek verskillende kulture se kosse en help so leerders verstaan hoekom Suid-Afrikaanse kos so divers is.

images (6)

Spyskaarte van verskillende kulture in Suid-Afrika

Laat jou leerders ‘n spyskaart uitwerk (en sommer ietsie egs Suid-Afrikaans kom voorberei vir die klas!)

Lekker smul!